LANDSDIENS

Adamantia se D.S.Jacobs-Landsdiensklub is as die aktiefste klub in die Noord-Kaap vir 2019 aangewys.

Die landsdiens is deurentyd betrokke met projekte soos:

  • Herwinning
  • DBV: hondekos, hokke borg, muntlegging, speelgoed en leibande
  • Kansa Relay-projek
  • Ons Huis: besoek aan bejaardes
  • Teenveldtog vir Renosterstropery – fondse vir Mokala
  • Bewaring van Monumente: Magersfontein en Burger monument
  • Wildbesigtiging en klubkamp te Rooifontein
  • Ons besoek ook elke kwartaal ‘n gemeente in Kimberley en probeer om ‘n bydrae te lewer aan die barmhartigheidsprojekte.

Leerders leer ook sekere handvaardighede aan soos knoop en doop, kralewerk, breiwerk, geskenkies, hondespeelgoed, ‘modge podge’, eye-catchers ens.

Ons woon klubkampe, gebiedskampe en provinsiale en nasionale kampe by.

In 2020 het Marizán Steyn, ons ondervoorsitter, ‘n Springboktoekenning ontvang.

SêR

As jy ‘n liefde vir sang het of ‘n instrument kan speel, is Addies-sêr die plek vir jou! By Addies-sêr sing ons ‘n verskeidenheid van liedjies en in verskeie style. Hier het jy ruimte om jouself op ‘n kreatiewe manier uit leef en jou talent ten volle uit te beeld. So, kom deel graag jou passie vir musiek en word deel van die Sêr-familie!

VCSV

VCSV vind op Woensdae in gleufperiodes plaas.

Massabyeenkomste waar die hele skool bymekaarkom word deur Quintin Kellerman georganiseer. Hy reël elke keer `n ander spreker vir die leerders.

Die leerders sing geestelike liedjies en ontvang saam die woord van God.

TONEEL

As jy ‘n ‘flare’ vir die dramaties het en nie skaam is vir die kollig nie, is Tienertoneel net die regte plek vir jou. Ons neem jaarliks aan die ATKV deel en ontvang gereeld goeie toekennings. Plaaslike opvoerings sorg altyd vir vele genot. As jy deel wil wees van die beste span in die skool, moenie huiwer om aan te sluit nie. Sien jou daar!

DEBAT/REDENAARS

Praat jy dat die spoeg spat? Het jy nog nooit ‘n argument verloor nie? Wel dan is jy ‘n redenaar van format. Adamantia se redenaars gee aan jou die geleentheid om op verskeie platvorms jou merk te los onder andere Oppie Tong Af, ATKV, Radikale Redenaars en nog vele meer. Lefran Smith het beslis haar merk gelos toe sy in 2019 die eerste leerder was wat ‘n prestige baadjie vir redenaars verwerf het. Met baanbreker onderwysers en pittige mede redenaars loop die woorde soos stroop.

MNR. EN MEJ. ADDIE

Mnr. & Mej. Addie is meer as net ’n skoonheidskompetisie. Seuns en meisies kry hier die geleentheid om bietjie meer van hulself terug te gee aan die gemeenskap en die seuns en meisies leer ook verskeie vaardighede aan. Graad 9 tot 12-leerders mag deelneem en elkeen staan ’n gelyke kans om as Mnr. of Mej. Addie weg te stap.

Die finaliste reël ’n fondsinsamelingsfunksie en die fondse wat hul insamel word vir ’n gemeenskapsprojek aangewend. Elke finalis moet ook ’n individuele gemeenskapsprojek aanpak. Dit kan ’n reeds bestaande projek of ’n nuwe projek wees. Die finaliste moet besef dat dit nie gaan oor wie die meeste geld kan uitgee nie, maar eerder oor wie die meeste van hulself aan die gemeenskap kan teruggee. Dit gaan alles oor die verskil wat jy kan maak.

Die Mnr. & Mej. Addie-finaliste het ook ’n kampnaweek. Die doel van die naweek is dat die finaliste mekaar op ’n ander vlak leer ken en ook voorbereidings kan doen vir die Kroningsaand. Hul werk ook tydens hierdie naweek baie in ’n span saam en ontwikkel baie vaardighede. Die meisies en seuns se persoonlikhede kom hier sterk na vore.

Vier beoordelaars, van buite die skool, voer onderhoude met die finaliste. Die onderhoude help die beoordelaars om die finaliste beter te leer ken en die finaliste kan hul projekte en harte met die beoordelaars deel. Die beoordelaars kies dan ook die wenners.

Daar word elke jaar ’n Mej. Addie, 1ste Prinses, 2de Prinses, Mej. Liefdadigheid, Mej. Persoonlikheid en ’n Mej. Fotogenies aangewys, asook ’n Mnr. Addie, 1ste Prins, 2de Prins, Mnr. Liefdadigheid, Mnr. Persoonlikheid en Mnr. Fotogenies.

ArendFM

Tydens pouse speel ArendFM musiek vir die leerders.